Plaaslike slaghuis word vereer met top toekenning
Die gesogde toekenning gee erkenning aan slahuise in Suid-Afrika vir uitnemendheid in vleisvakmanskap en top kliënte diens.

Comet Slaghuis op die hoek van Heidelbergweg en Rhodeslaan Nigel is bekend vir hul hoë kwaliteit vleis, besonderse diens en goeie pryse.
Dit is ook as gevolg van dié redes dat hulle onlangs die Cleaver toekenning vir 2024 ontvang het.
Die 20ste jaarlikse Best Business Cleaver toekennings, het tussen 23 en 25 Oktober in die Kaap plaasgevind.
Die gesogte toekenning is om slagters regoor Suid-Afrika te vereer wat ‘n toonbeeld is van uitnemendheid in kliëntediens, produk gehalte en besigheidsinnovasie.
Slaghuise word deur verbruikers genomineer en ondergaan streng oudits om te verseker hulle voldoen aan hoë standaarde in verskeie kategorieë, soos voedselveiligheid, higiëne en bekostigbare pryse vir die gemeenskap waarin hulle dien.
Comet Slaghuis bestuurder, Jeandré Goosen, het 24 Oktober Kaap toe gevlieg om die toekenning namens eienaars Marius, Elize en Anton Res te ontvang.

“Ons is dankbaar vir al ons kliënte wat vir ons gestem het en is trots op die toekenning,” het Jeandré vertel. Hy het gesê Comet Slaghuis glo nog aan die tradisionele manier van slaghuise en bepaal hulle slegs by die verkope van vleis.
“Ons verpak ons eie produkte en gebruik ook ons eie resepte.
“Ek glo die erkenning is vir die gehalte vleis wat ons verkoop, die personeel se vriendelike diens en ook ons sakpas pryse,” het Jeandré vertel en bygevoeg dat hul kliënte binnekort weer kan stem om die 2025 wenner te bepaal.